Tuesday 10 April 2012

4 Salige dae..... ('n fotoverhaal)

Ek hoop en glo dat julle elkeen 'n baie geseënde Paastyd gehad het. Ek het die rustigste 4 dae gehad, en het elke oomblik daarvan geniet.

Donderdag het ek vinnig vir my dierbare vriendin Michelle 'n hoedjie gehekel wat sy kan saamvat op haar naweek by skoonma. Dis vir my een van die grootste lekkertes van hekel, dat jy so vinnig iets kan skep.


'n Lekker bont hoedjie, wat ek natuurlik eers self moes pas


daarna moes ek Lulu daarmee verpes


voordat ek dit vir Michelle kon gee om op te sit! Sy is ook my buurvrou en ons gunsteling kuierplek is by die muur.


Vrydag was rustig, en wat 'n beter manier om die dag mee te begin


Ek het nie eers bed opgemaak nie, en kon kort-kort terugklim net want ek kan!



Ek het vreeslike goeie voornemens gehad vir die naweek. Tot 'n lysie (weereens) gemaak van al die kaste wat ek gaan regpak en uitsorteer. Eerste op die lys was my wolkas. Ek het als uitgepak, gesorteer en netjies gemaak. Maar dit was 'n groot fout om met daardie spesifieke kas te begin! My vingers het begin jeuk toe ek sien wat als daar is wat gedoen moet word, en nodeloos om te sê, dit was die eerste en laaste kas wat reggepak is die naweek!

Van toe af was dit hekel, hekel, hekel!


Ek het my poncho klaargemaak. Verlede jaar hierdie pragtige wol gekoop en begin daarmee, en half vergeet daarvan. Net 'n laaste paar rytjies en voila! die poncho was klaar.


Ek is baie beindruk. Die kleure is sag en die wol nog sagter. Kan nie wag vir die koue sodat ek dit kan dra nie.


Saterdag het ek my behoorlik weggeskeur van die huis om Nelspruit toe te gaan. Natuurlik eers Witrivier om gery en gelukkig was die wol winkel oop. Vir my harde werk van (een) kas regpak die vorige dag, het ek myself beloon met 'n reuse sak wol! (ek verdien dit mos?)


Onder andere hierdie super sagte wol waarmee ek 'n serp gehekel het.

Dit was lekker om 'n slag uit die huis te wees (moet ek erken) en ek het my verkyk aan die mooi wolke. So asof dit saamgewerk het om die Paas boodskap oor te dra.

Wel, terug by die huis was hierdie 'n goeie opsomming van hoe ek die res van my naweek deurgebring het.


Dit was heerlik, heerlik, heerlik!

My laaste projek vir die naweek was 'n doilie vir my dogter. Dis 'n groterige een sodat sy dit dalk oor 'n slaaibak kan gebruik? Ek is dol daaroor.



Ek hoop julle het 'n wonderlike week verder. Wie weet, dalk kom ek die komende naweek dalk regtig by die deurmekaar kaste uit?

Groetnis!

Elsa

1 comment:

  1. Wow jy is omtrent besig en die poncho is baie oulik. Geniet jou hekel!!

    ReplyDelete