Friday 7 October 2011

Van Rose en Hekel oor Naweke

Dis Vrydag! Van 'n hele naweek sien ek die meeste uit na Saterdae oggende.

Daar is net iets omtrent 'n Saterdag oggend wat vrede oor my bring. Vroeër het ek aan naweke gedink in terme van laat slaap maar vandat ek gewoond geraak het om elke oggend half 5 op te staan om te gaan oefen, het my liggaam se wekker lankal oorgeneem en word ek naweke steeds vroeg wakker.

Eers het dit my ontstel, en wou ek my kop toetrek en verder probeer slaap. Tot ek eendag besef dat daar min dinge is wat soveel vrede in jou gemoed gee as om vroegoggend buite te sit en luister na die rustigheid van 'n Saterdag. Nou baklei ek nie meer daarteen nie. Ek staan vroeg op, gryp my hekelwerk en geniet daai ruk voor die buurt begin lewe. Probleem is net dat ek gewoonlik so rustig raak dat ek sukkel om weer te onthou dat naweke ook 'n hoop vuil wasgoed bring!

Ek hoop om hierdie naweek darem 'n paar projekte af te handel. Die gerbera kombersie vorder flink en sal hopelik klaar wees. Kyk, nou moet ek bieg - as ek stres, hekel ek, en hoe meer ek stres, hoe vinniger hekel ek!! Kan julle dink hoe lekker vinnig gaan ek Sondag oggend hekel wanneer die Bokke teen die Ausies speel??

Hierdie blommetjies het ek 'n paar naweke terug begin. Ek het 'n lieflike boek by kalari gekoop met 200 blommetjies en afwerkings in. 'n Fees vir enige haker!

Kyk daarvoor hier

Kyk net na hierdie bank! Ek het dit in 'n paar blogs gesien sonder vermelding, ek vermoed dit kom van Cornel af. Is dit nie mooi nie? BAIE werk wat hierin gegaan het! Mmm en ek het juis twee ou stoele wat dringend 'n nuwe voorkoms het!




Vandag sou my pragtige sussie verjaar het as sy nog by ons was. Net vir haar, sit ek rooi rose op, want dit was haar gunsteling. Jy leef voort in ons harte verewig...

photo

Geniet julle naweek en onthou om die Bokke se wedstryd te kyk!

1 comment:

  1. Ek soek n pynappel tafelloper patroon van klompie jare terug asseblief. Dankie

    ReplyDelete