Friday 30 March 2012

'n Kat in die Sak.....





Ek sien gereeld fotos en patrone van gehekelde speelgoed, en (ek dink) aangesien ek (nog) nie kleinkinders het nie het ek nie heeltemal die ophef daaroor verstaan nie. Eergister google ek toevallig 'n gehekelde kat raak. Slapende Kat of Amineko in Japannees, is die dierbaarste kat met lang arms en bene. Die heel lekkerste is dat ek hierdie kat in 'n aand gehekel het! Dis 'n vinnige, oulike patroon. Ek is nie vreeslik kunstig nie so die gesiggie wat mens moet opwerk het maar groot konsentrasie gevat en was die moelikste van die hele storie!



He aint heavy, he's my brother!


Geniet die naweek, ek weet ek gaan!

Tot volgende keer, maak 'n verskil!

Wednesday 21 March 2012

Dis 'n dogtertjie!




Onthou dat ek 'n rukkie terug geskryf het oor drie babas wat oppad is? Die eerste een kom in Augustus, en dis 'n dogter! Lea Storey gaan 'n regte dogtertjie kombersie kry. Gister was vakansiedag en ek het behoorlik heeldag aan haar kombers gewerk.


Ek is nie te groot op patrone nie. Ek kyk gewoonlik op google vir idees en dan besluit ek wat ek wil doen. En baie keer verander ek boonop van plan en neem die patroon 'n ander wending soos ek vorder!




Ek behoort die kombers teen die naweek naby aan klaar te hê en sal dan weer 'n foto opsit. Die kleure lyk regtig mooi en is so sag. Ek gebruik Elle Baby vir die gekleurde dele en Elle family knit in wit. Die wit is dikker as dit gekleurde wol, dus gebruik ek 'n 2.5mm naald met die kleur en 'n 4mm naald met die wit.

Tuesday 20 March 2012

My vinnis gaan 'n handsak word! (maar daar's 'n dilemma)





Ek moet bieg. Ek hou nie van naaldwerk nie. Soos in niks, gladnie en geensins. By naaldwerk bedoel ek nou die tipe waarvoor jy 'n naaimasjien moet uithaal. Ek sal nog 'n knoop en 'n soom met die hand werk, maar ek is sommer ongelukkig as ek ander tipe naaldwerk moet doen. Dis vir my regtig niks lekker nie.

Nou sit ek met 'n lekker dilemma. Ek het besluit die wol wat ek gekoop het gaan 'n handsak word! En dit gaan 'n mooi handsak wees! Hier is nou waar die knoop lê. Die handsak gaan 'n voering moet kry, en om dit te doen, gaan ek naaldwerk moet doen!

Kom ek bieg oor nog iets. Ek het verlede jaar vir my verjaardag ('n hele jaar terug) 'n omkapmasjien gekry. Ek was oortuig ek moet een hê. En ek wil een hê, en ek gaan skielik vreeslik lief word vir naaldwerk. Die omkapmasjien is nog nie eers uit sy boks gehaal nie. Dit staan in 'n kas, en ek het so vinnig na die dvd gekyk en gedink sjoe, dis baie werk!

Nou ja, ek gaan hierdie struikelblok moet oorkom. Naaldwerk kan ek doen, moet my nie verkeerd verstaan nie! Ek het al klere gemaak, tot 'n gevoerde baadjie en 'n 'prom' rok vir my dogter toe ons in mosambiek gebly het! Maar dis nie vir my lekker nie, regtig nie.

Ek het hierdie mooi handsak op etsy gesien. En dadelik besluit ek wil so een maak!



Sal julle verseker op datum hou van my vordering!

Sunday 18 March 2012

een projek voltooi!

Hoop almal het 'n heerlike naweek gehad. Ek het lekker gerus, en nog meer gehekel. Die kombers waaroor ek al 'n rukkie terug begin blog het is klaar.

Ek wou vir my skoonseun 'n kombers maak wat hy kan gebruik in die koue Kaapse winter terwyl hy swot. My dogter se opdrag was dat dit asb "plain and manly" moet wees. Na ek bietjie op google gaan kyk het, het ek 'n prentjie gesien en bietjie aangepas, en hier is die resultaat:



Ek het granny strepies gemaak, in lang bane van 7 blokke. Dan het ek elke baan omgehekel met 'n room randjie. Daarna het ek die volgende baan begin, en dit aanmekaar gehekel. Na die 5 bane aanmekaar was het ek die hele kombers 'n gewone granny randjie gegee. Dit lyk regtig vir my baie mooi en was 'n baie lekker en vinnige kombers om aan te werk. Hoop my skoonseun geniet dit!

Thursday 15 March 2012

Verjaardagblog!





Gister was my verjaardag!

Ek is verras en bederf met geskenke, oproepe, smse en baie liefde en boodskappe.

My kinders het die mooiste blomme laat aflewer en 'n baie spesiale pakkie het al die pad van die Kaap af by my aangekom. Naas hekel en wol is boeke 'n baie groot passie vir my, ek is sentimenteel oor 'n boek en ek lees vreeslik baie.

Hierdie is 'n pragtige boek met die oulikste patrone. Ek kan nie wag om te begin nie!







Daar was oor hierdie mooi hake. Ek sien al 'n mooi gehekelde sak oor die een?


Ek glo vrouens werk nie op hul verjaardae nie, so ek het myself die dag afgegee. Ek is met 'n inkopielysie Nelspruit toe, maar nie voor ek in Witrivier by die wol winkel gestop het nie.

Ek het gewag vir die regte geleentheid of projek om vir my Vinnis wol te koop, en hierdie was 'n heerlike selfbederf. Ek dink 'n baie mooi sak vir daai ysterhaak?



Nog 'n groot bederf was hierdie pragtige kaktus plantjies wat my buurvrou Michelle vir my gebring het. Kyk net hoe mooi lyk hulle op die rakkie langs die swembad - als haar goeie dekor idee! Dankie Mesie!


Baie dankie aan elke persoon wat vir my hierdie dag so spesiaal gemaak het. Ek het baie geliefd en bemind gevoel.

Saturday 10 March 2012

Plain and manly


Ek doen nie gewoonlik blogs op naweke nie (dis hekeltyd), maar ek is erg opgewonde oor hierdie kombers. Party projekte hekel net lekkerder, en dis of dit sommer vinniger vorder. Ek het heeldag aan en af gehekel aan die kombersie vir my skoonseun en moet net gou ietsie daarvan wys.

Wednesday 7 March 2012

Nog nuwe wolle!


Ja ja, ek weet ek het al 'n hele lysie van projekte, maar maters, ek werk regtig bietjies bietjies aan elke een van hulle! En gister was ek alweer in die wolwinkel, en loop toe die mooiste mooiste wol raak. Dis sag, donsig en roep omtrent die winter nader.

Dis Venice DK van Elle, en nou voel ek vreeslik slim en gekonfyt want gewoonlik is wol sommer net wol, en verskil die kleure net vir my! Ek hou nie gewoonlik van die 'bont' wol nie, maar hierdie het vir my baie mooi kleure gehad, en dis supersag.


Voel julle ook opgewonde en 'sien' 'n projek en wanneer die wol eers gekoop is, wonder ek of ek nie iets anders daarmee moet doen nie? Hierdie keer het ek dadelik gedink aan my seun en skoonseun wat koue Kaapstadse winters beleef, en aan Natasja se 'infinity scarf'. En voor ek van plan kan verander, het ek sommer daarmee begin!


Monday 5 March 2012

Siklone en af dae



En daar mis die sikloon ons toe heeltemal! Ek het spesiaal 'n dag verlof gevat gister, want dit sou kwansuis reën en reën, en ek het drome gedroom van hoe ek heeldag lank sit in hekel terwyl die reën op my sinkdak val. Ai tog, toe is dit dodelik warm en windstil. Boer maak 'n plan, toe sit ek maar die lugverkoeler aan en hekel in elk geval.

Die trou projek vorder goed, en ek wens regtig ek kon dit al wys, want ek dink dis vreeslik mooi en oulik! Maar heelaas, die troue is eers op 2 Junie!

Ek het uit my nuwe boek begin vormpies hekel vir my dogter se kussings.


En na ek al my kombuiskaste reggepak het, het almal 'n baie welverdiende middagslapie gehad. So, "all in all it was a good day".

Friday 2 March 2012

Geskenke

Ek was verlede naweek in Pretoria en my Ousus het my verras met 'n vroeë verjaardag geskenk. Moet sê ek het nog nie eers aan my verjaardag gedink nie, so dit was 'n lekker onverwagte verrassing. Sy weet duidelik hoe om my hart te wen, want nie net het die pakkie katte opgehad nie,


binne was die oulikste boek! Hierdie is 'n baie handige boek wat ek beslis sal aanbeveel. Die kussings vir my dogter waaroor ek verlede keer geblog het gaan verseker hieruit kom.



Kyk net hoe oulik word die blokkies verduidelik.


Die eerste paneel van my skoonseun se 'plain and manly' kombersie is feitlik klaar, en ek sien uit na 'n naweek van baie hekel. Die weer voorspel swaar reën agv 'n sikloon vanaf Sondag. Ek het sommer net vir ingeval 'n dag af gereël Maandag, sodat ek heeldag knus kan sit en hekel. My verskoning was eintlik om bietjie reg te pak terwyl dit nou gaan koeler wees, maar kom ons kyk maar of dit gaan wen bo die penne en wolle.



Hoop julle het almal 'n wonderlike naweek, gaan veilig en kom veilig terug!

Groete