Monday 31 December 2012

'n Goeie afsluiting vir 2012

Alhoewel ek nie verlof gevat het oor die Kerstyd nie, was daar darem heelwat vakansie dae en het ek sommer heerlik baie tyd gehad vir hekel.

Ek het soveel projekte klaargemaak, dat ek liewer net foto's gaan opsit van als waarmee ek myself besig gehou het.

'n Warm kombers vir Kokstad vorder flink,


Helder ponchos vir twee blonde boeremeisies in Brittanje







Mooi randjies vir baba kombersies





en 'n rippel kombers vir my kleinkind wat in Junie volgende jaar hier sal wees


Tussendeur was daar darem tyd vir middagslapies



snaakse goggas bekyk

 

en kersgeskenke toedraai



  

Ek hoop julle het almal 'n heerlike feestyd.  'n Baie voorspoedige 2013 vir almal, en ons gesels sommer binnekort weer.  Vier die feestelikhede versigtig!

Tot volgende keer.

Friday 14 December 2012

Ta da da dam!




Die blou truitjie waarvan ek die vorige keer vertel het, is klaar.  Dit was 'n heerlike patroon en ek is baie tevrede.  Ek het die oulikste knopies gekry en dit moet nou nog net geblok word.


Monday 10 December 2012

Die vreugde vure brand hoog

Dis met baie vreugde, dankbaarheid en opgewondenheid dat ek vandag hierdie blog skryf.  Ek gaan Ouma word! My dogter, Viyonne, en haar man Bruce, word in Junie 2013 die ouers van hulle eerste baba, en ek is oorstelp van vreugde. 

Die opgewonde ouerpaar het besluit dat hulle nie vooraf die geslag van die baba wil weet nie, dus sal daar baie neutrale kleure gebruik word. Ek het hierdie naweek een van die kombersies 'n mooi randjie gegee.











Ek het ook 'n Elle patroon gekoop en dadelik met hierdie baba baadjie begin.  Dis 'n oulike patroon wat nogal vinnig gaan.


En ja, ek was baie ongehoorsaam en het besluit om net hierdie EEN dingetjie in blou te maak! Dogtertjies kan ook mos blou dra of hoe?


 Julle sal dus verstaan as daar in die volgende paar maande (nog meer) baba praatjies gemaak word, en baie klein goedjies gehekel word!

Tot volgende keer

Sagte Groete



Thursday 6 December 2012

Vordering met die sirkel kombers

Die laaste week of twee het ek weer sommer 'n hele paar projekte waaraan ek gelyk werk, en dit maak my baie gelukkig!  Ek is defnitief nie iemand wat een projek kan vat, dit kan afhandel en dan weer met die volgende een begin nie.  Ek is sielsgelukkig wanneer ek sommer so 'n paar het waaraan ek werk, doen een aand hierdie een, volgende aand weer iets anders. 

Die sirkelmotief kombersie waaroor ek die vorige hier vertel het, vorder baie goed.  Ek werk met Elle Rustica Chunky, en 'n 5.5 hekelnaald.  Dit gaan so vinnig en ek geniet elke sirkel.




Sunday 2 December 2012

Goeie nuus en Slegte nuus

Die slegte nuus is dat my kinders nie meer in Kaapstad gaan bly nie, en dat ek seker nou minder daar sal gaan kuier.  En ek is tog so lief vir die Kaap.

Maar....

Die goeie nuus is dat my dogter en haar man Kokstad toe trek.  Hoekom sou dit nou goeie nuus wees? Wel, behalwe dat hulle 'n baie opwindende uitdaging daar het, is Kokstad blykbaar baie koud in die winter, en hulle sal verseker baie komberse nodig hê!  

Dus, ek gaan sommer baie hekelwerk hê, en baie verskonings om nog wol te koop!

Ek het voor die winter reeds 'n groot voorraad Elle Rustica gekoop, waarmee ek 'n kombers mee wou maak.  Die plan was dat ek vir 'n naweek sou wegbreek na 'n yskoue plek en heel naweek voor die kaggel sou hekel.  Dit het toe ongelukkig nie gebeur nie, en die winter is heeltemal te vinnig na my sin verby.  Maar nou het ek 'n heerlike verskoning gekry om die wol uit te haal, en na ek 'n paar boeke deurgeblaai, en 'n hele paar google soeke gedoen het, het ek op hierdie patroon besluit. Die die Vrolike Kombers, in die boek Hekel nog Lekkerder









Monday 26 November 2012

Die Rimpeleffek


Daar's 'n roering in die water!  Of 'n rimpel effek op die wol front.  My vriendin en buurvrou Michelle, is besig met die allermooiste rimpel kombers.  Kyk net hoe mooi is daardie kleure.  Ek is elke keer verstom oor hoe vinnig sy leer hekel het, en hoe netjies sy werk.

 


Intussen is ek ook besig met een, so ons kan gereeld vergelyk.  Ek dink op die oomblik is Michelle loshande voor!




Tuesday 20 November 2012

Wolbom in Groenpunt

Ek het 'n heerlike, heerlike naweek gehad in Kaapstad.  My seun het 'n verrassings besoek van Londen gebring (ek het geweet, sy vriendin het nie).  Ek dink 'n groot en lekker verrassing vir haar, en dit was vir my heerlik om hom weer te sien.



Ek is mos maar smoorverlief op die moederstad.  Daar is 'n bekoring aan wat ek nie altyd in woorde kan omskryf nie. Alles voel vir my daar net anders en die koel wind wat meestal waai is natuurlik 'n heerlike pluspunt.





My dogter woon in Groenpunt teen 'n baie steil hoogte.  Onder in die straat is een van daardie onooglike elektriese bokse wat met beton mure toegemaak is.  Blykbaar het die dame wat oorkant dit bly besluit om vir haarself 'n beter uitsig te skep, en die pilare met wol getakel.  Kyk net na hierdie ongelooflike resultaat!



 

Nou kyk ek met nuwe (wollerige) oë na elke lamppaal en muur in Malelane. Hou hierdie spasie dop!

Friday 2 November 2012

Meer katjies as hekelwerk

Ek kan nie glo dat 'n maand so vinnig kon verbygaan nie.  My dae is redelik ingesluk deur werk en die versorging van 4 baba katjies.  Goed, ek oordryf.  Die mamma sorg ongelooflik mooi vir haar babatjies en ek sit my en verkyk en verwonder oor hoe vinnig hulle groei.  Hulle is nog steeds in my kantoor en ek voel behoorlik of ek elke mylpaal deel.  Ek raak opgewonde oor ogies wat oop is, die eerste treetjies, en vanoggend was dit die eerste keer dat 2 van hulle dit gewaag het om kos te begin eet.













Ek kom darem nog by hekelwerk ook uit, en werk tans aan die mooiste "ripple" kombers. Ek het 'n skakel gekry na 'n 'random stripe generator' en die kleure daar gaan invoer.  Ek wou nie net 'n herhaling van dieselfde kombinasies strepe gehad het nie. 
 
 
Ek gebruik Elle Gold vir die kombers, en geniet die sagte wol.
 
So 'n tydjie terug het ek hierdie mooi patroon raakgeloop en dit op Etsy gekoop.  Dis 'n patroon vir 'n kombersie, en ek weet nog nie wanneer ek dit gaan maak nie, maar ek moes darem eers die uit gesiggies probeer hekel. Dis nogal baie werk en vreeslik baie wolletjies wat weggewerk moet word, maar regtig 'n oulike patroon vir wanneer jy 'n baie spesiale iets wil maak.
 

Lea se mamma  het dringend 'n kopband vir haar gesoek, en ek het sommer so vinnig een aand hierdie een gehekel.  
 
 Ek kyk net hoe mooi lyk sy daarmee!


Tot volgende keer! Geniet die naweek