Tuesday 28 February 2012

Prioriteite!

Dis die einde van Februarie, en vir my is dit 'n redelik chaotiese tyd. Tussen finansiële jaareindes en voorraad telling deur probeer ek kantoor regpak en liasseerwerk op datum kry sodat die lêers leeg is vir die nuwe jaar. Maar my gedagtes hardloop maar heeltyd terug na al my projekte en wanneer ek 'n tydjie kry hekel ek 'n paar rye of steke.

Dalk is hierdie 'n tyd om sommer my projekte ook te orden en lysies te maak van dit waarmee ek besig is en nog wil doen.

My lys van projekte waarmee ek besig is op die oomblik:

- Ripple kombers
- Danette se trou projek (hier kan ek nie foto plaas nie, maar na die troue sal ek dadelik deel)
- Kombersie vir my skoonseun (in my dogter se woorde, ' plain and manly please')
- Babakombers (nr 1 al begin, nog 3 om te gaan)




Die lysie van projekte wat ek wil begin

- Kussings vir my dogter (kyk net die prentjie wat sy vir my gestuur het)



- Vrolike kombers
- nog 3 baba komberse

Ek gaan my nie verbind tot hierdie lysie nie, die kanse is goed dat ek nog meer byvoeg soos wat ek idees op die internet sien.

Vir nou gaan ek my eers weer begrawe tussen syfers en boeke, wens my sterkte toe!

Tot volgende keer, maak 'n verskil.

Wednesday 22 February 2012

'n Vrolike Affêre

Terwyl die blou ripple kombers goed vorder, het ek darem bietjie afwisseling en kleur nodig. En met my vorige blog oor the "throws" op google, het ek baie lus geraak vir iets regtig kleurvol.

Gister moes ek Nelspruit toe vir werk, en het seker gemaak ek stop by Valencia oppad terug. En die resultaat is 'n kleurvolle sak wol. Hierdie gaan 'n vrolike storie word!



Ek het skaars my inkopie sakke uitgepak toe ek die hekelpen gryp en na 'n paar keer se uittrek en oorbegin, het ek darem iets gehad om te blok. Ek besluit nog oor die patroon. Hierdie het ek sommer van 'n prentjie af gehekel maar ek is nie heeltemal tevrede daarmee nie.


Monday 20 February 2012

Blommetjies truie en stoute katte

Nie alles wat mooi is wil ek noodwendig maak nie, en nie alles wat ek maak is noodwendig vir iemand anders mooi nie. Maar kyk, party goed is vir my BAIE mooi. Iemand sit nou een dag 'n link na hierdie blog op Ons Hekel se facebook blad. Die goed is so kleurvol. Kyk net na hierdie truitjies. Wie het nou so iets uitgedink?




Intussen vorder my 'granny ripple'. Ek kan voel dit begin klaar warm raak onder daai kombers. Bygesê, dit was Vrydag weer 'n skamele 42 grade in Malelane. Kom winter, KOM!






Nadat ek die eerste baba kombersie eers 'n rukkie weggesit het om aan die ripple te werk, het ek dit gister uitgehaal om solank die blokkies wat klaar is te begin blok. Natuurlik moes ek toe vanoggend 3 van die blokkies was nadat modder katspore oornag daarop verskyn het. Ek wonder wie die skuldige is?






Friday 17 February 2012

Google net Crochet Throw

Ek is 'n vreeslike google aanhanger. Ek het nog nooit na iets gesoek wat ek NIE kon opspoor daar nie. En gister google ek toe 'crochet throw'. Absoluut hemels. Die kleure, die patrone, die idees! Ek raak skoon liries, maar kyk gerus self na 'n paar voorbeelde:



Wednesday 15 February 2012

Swartbessie Speelboekie

Ek dink die GROOT rede hoekom hekel vir my so lekker is, is omdat dit so vinnig gaan. Mens kan regtig sommer in 'n japtrap iets maak.

Ek het gistermiddag na werk, en na my weeklikse rugmassering en nog 'n swemsessie ook, vinnig hierdie sakkie vir my Blackberry Playbook tablet gemaak. Dit het nie meer as 'n uur geneem nie, en ek dink die resultaat is vrolik en oulik!




En ek het darem iets gekry vir Valentynsdag ook!

Sunday 12 February 2012

So baie projekte, so min tyd!





Ai vriende, naweke is darem heerlik. En as 'n mens boonop daarop kan roem dat jy in een naweek middagslapies gehad het op Saterdag EN Sondag, is jy werklik 'n baie gelukkige vrou.


Ek vorder goed met die groot kombers, maar sal nou 'n lysie moet maak van al die projekte sodat ek kan seker maak ek gee bietjie tyd aan almal. Dalk is dit omdat hierdie kombers so groot is en ek besluit het dat ek NIE gaan opgee nie, dat ek na elke ry net nog een wil doen voor ek aanskuif na iets anders vir 'n rukkie. Dus het ek die naweek net aan die groot kombers gewerk. Soos wat dit groter word sal ek waarskynlik minder aan dit werk tot die winter nader kom, want ek kan net dink hoe warm dit onder daai kombers gaan raak!



Ek lees gereeld Natasja King se blog, Crochetime en sy het my bedag gemaak op hoeveel hekelwerk op tv verskyn. Sommer so terloops en in die agtergrond van sepies, flieks, ens. Kyk net hierdie pragtige kombers wat ek gesien het.


Dit was in die sitkom 'Mad Love'. Ek hou baie daarvan. Dit lyk of hulle net 'n klomp blomme gehekel het en dit toe met sulke kettingsteek visnet aangemaak vasgemaak het. Dalk probeer ek dit nog! (sal dit op my lysie moet sit).

Nou ja, mag hierdie week vir julle net vreugde bring en ek hoop die maandag is minstens 'n ligte hemelblou pleks van donkerblou!

Groete

Monday 6 February 2012

My dapper projek (episode 2)

Soos gister geblog, het ek 'n baie groot projek aangepak. Ek het besluit om 'n granny ripple kombers te maak vir 'n koning grootte bed. Dis GROOT! Ek het eers met 'n gewone golf patroon begin maar na 3 rye besef ek gaan my dood hekel en baie bolle wol gebruik. Daarom het ek maar weer teruggeval op my gunsteling granny patroon. Ek het sowaar 3 rye uitgetrek en oorbegin. En glo my, dis nie sommer sulke rytjies nie! Twee rye het die grootste gedeelte van 'n 50g bol wol gevat!

My eerste poging het so gelyk:

Dit is 'n baie mooi patroon maar behalwe dat ek koue voete gekry het (nie figuurlik nie, want dis Malelane) het ek besef dat dit 'n baie dik en onpraktiese kombers vir ons geweste gaan wees. Selfs ons koudste winterdae is maar soos 'n lekker koel somersdag op die hëveld!


Dus het ek maar ewe uitgetrek, die wol in bolletjies gerol, en weer begin.


Hierdie patroon gaan bietjie vinniger gaan (hoop ek).

En net om jou 'n idee te gee van hoe lank elke ry is



dis 'n hele paar steke!

Ek werk nog aan die eerste van die babakomberse, en het 'n baie lekker projek vir 'n troue waaroor ek nie mag vertel voor dit klaar is nie! Maar ek sal julle verseker na die troue vertel.

Ek het oor die naweek sommer vir die lekkerte 'n regte outydse melk doilie gehekel. Kompleet met kraletjies. Die gare was dalk net bietjie dik, maar ek was heel beindruk met my eerste poging.



Hoop julle het 'n wonderlike week. Ek hoop om binnekort uit te vind hoe presies ek moet 'link' sodat ek my Een Per Dag projek kan opsit.

Tot volgende keer, soos Coenie sê: Maak 'n verskil!

Sunday 5 February 2012

'n Baie dapper projek!



Hierdie, liewe vriende, is die begin van 'n baie dapper en brawe projek!

Dis 'n LANG ry kettingsteke, die begin van 'n koning grootte kombers! Ek vertel binnekort meer

Friday 3 February 2012

Tuesday Tally on a Friday



So it's official. I have no idea how to do the whole linking business. So until I find out, here's my progress so far. I was supposed to do this on tuesday but due to month-end madness never got round to it. So here goes!



Thursday 2 February 2012

Baba opwinding!







Net een nie maar DRIE babas is oppad! Nee, gelukkig nie vir dieselfde mamma nie, dis darem vir drie verskillende mammas (ek glo nog steeds dat my eerste kleinkind eendag een van 'n tweeling of drieling sal wees). Maar my opwinding is groot, en ek voel skoon deel van die afwagting!


Ek gaan besig wees! En as ek gelukkig is, het die drie mammas verskillende smake, en kan ek van 'n sagte pastel kombersie tot 'n funky bont hippie kombers hekel!


Een ding is seker, en dit is dat ek met elke stekie wat ek gaan hekel, en elke blokkie wat ek gaan voltooi, sal bid dat die baba waarvoor die kombers is, vir hulle ouers net vreugde sal bring. En dat die baba altyd net liefde en geluk sal ervaar.