Monday 12 December 2011

Hou hierdie spasie dop!



Na die winter het ek myself belowe dat ek eers al die wol wat ek het gaan ophekel voor ek nuwes koop. Uiteindelik is die twee kniekombersies toe mos klaar (in my laaste blog) en toe raak ek so besig dat ek nooit in Nelspruit uitkom om weer wol te koop nie!

Vrydag het ek darem die kans gekry en die wolwinkel ingevaar. Ek weet nie hoe julle is nie maar as ek voor daai rak staan en al die kleure en dinge sien, kan ek nooit besluit wat, hoe en hoeveel nie! Hierdie keer het ek darem 'n vriendin saamgehad wat bietjie druk op my gesit het om 'n keuse te maak (anders was dit seker weer ure se besluitneming).

Noudat die wol gekoop is, is die lekkerte om te besluit wat ek daarmee gaan hekel. En glo my, ek het al 'n paar keer begin en weer uitgetrek en oor begin. Hou hierdie spasie dop!


Ek staan elke oggend half 5 op om te gaan gym. Dis iets waaraan mens nogal verslaaf raak, en wanneer ek dit nie doen nie, voel my dag heel deurmekaar. Die stil dorp en die sonsopkoms maak dit die moeite werd, en daar is min dinge so verfrissend soos die vars gevoel vroeg in die oggend. Veral in 'n plek soos Malelane wat maar erg warm word. Hierdie foto is vir die laatslapers, sodat julle kan sien hoe mooi die son opkom in die laeveld!

Sunday 27 November 2011

Luilekker naweke





Ek moet bieg: ek is mal oor lysies maak. Ek kan so deur die week vir myself 'n hele lys maak van als wat ek die naweek gaan doen. Van klein dingetjies soos om die yskas reg te pak, tot om 'n lysie van Kersgeskenke te begin maak. (ja 'n lysie om 'n lysie te maak) Maar sonder lysies gaan ek moeilik regkom. En van inkopie lysies sal ek liewer op 'n ander keer praat, want dis my groot verslawing. Meestal doen ek nogal dit was op die lysies is, of ten minste meeste daarvan. Hierdie naweek was een van my minder suksesvolle lysie naweke. O, glo my, ek het 'n lekker stewige lysie gehad, maar al wat ek wel gedoen het was om die twee kniekombersies uiteindelik klaar te maak. En hulle lyk so oulik, ek is nogal trots op hulle. Maar o wee, verder as dit het ek nie gevorder met die lysie nie. Ek het wel baie gelees, heeltemal te veel tv gekyk, 'n resep gemaak wat behoorlik sonde is vir die heupe. Maar meestal was ek lui, het ek ontspan, en het ek boonop elke oomblik daarvan geniet.


My ma het 'n rukkie terug gebel met 'n resep wat ek volgens haar absoluut MOET probeer. Ek is nie seker wat mens dit noem nie, maar dis defnitief die maak werd:

bestanddele:

3 groot bar one's
1/4 k margarien
1 eetl stroop
80 ml suiker
1 koppie klapper
2 koppies rice krispies

Smelt bar one's en margarien oor lae hitte. Klop tot glad. Voeg stroop en suiker by en roer tot suiker gesmelt het. Verwyder van hitte

Voeg klapper en rice krispies by en meng goed.

Skep die mengsel in 'n gesmeerde bak (die langwerpige 'pyrex' bakke werk goed). Druk vas met die agterkant van 'n lepel of met jou vingers (moenie lek tot jy klaar is nie!)

Sny in blokkies, laat afkoel en sit in yskas tot koud.



Eet op 'n naweek wanneer jou lysies lank is en jy te lui voel om dit te doen!




Geniet

Monday 21 November 2011

Inspireer of Irriteer?



Dit maak my dag wanneer mense hekelwerk raaksien en vir my daarvan sê. Selfs mense wat nie kan hekel nie, sien sulke goed skielik raak. My seun het hierdie naweek vir my twee fototjies gestuur wat hy geneem het in die winkels. Dit was so lekker om te weet hy het aan my gedink toe hy dit sien!


Die kombers is by Mr Price en die stoel was by Old Biscuit Mill in Kaapstad.

Nogal 'n plan om met vervelige kantoorstoele te doen!

Thursday 17 November 2011

'n Haakvrye tyd



Ek moet met skaamte erken dat ek vir byna 2 weke nie aan hekelwerk geraak het nie! MAAR ek het darem 'n goeie verskoning gehad. My seun Eduard het hier gekuier van Kaapstad af, en ons het bietjie opgevang met die gholf! Dit was heerlik, ons het 3 dae in 'n ry gespeel, Witrivier, Komatipoort en Malelane. By Witrivier het Eduard die kompetisie gewen. Nie een nie maar DRIE bottels brandewyn. Gelukkig het hy een hier gelos toe hy terug is, so ek sal dit vir vrugtekoek gebruik!



Ek het ook sommer 'n 'in-house chef' gehad toe hy hier kuier, en hy het een aand heerlike pizzas opgedis.



Die honde het was baie bederf en is baie afgehaal toe hy weer weg is en hulle weer moet buite slaap. Ek dink hulle mis hom baie maar nie soveel soos ek nie!


Kyk net vir koning rosekrans. Hy dink nie dis snaaks nie! Ek kon die versoeking net nie weerstaan nie.


Albei my kinders se gunsteling kleur is geel, en hierdie blommetjie het ek spesiaal vir hulle geplant. Dis so vrolik en laat my elke keer glimlag wanneer ek dit sien.


Komatipoort golfklub weet wat om te doen met stoute kinders!



Tot volgende keer!

Tuesday 25 October 2011

I want, I want!





Nog 'n vinnige foto van die Nona Pepe matte. Dis vir my verskriklik mooi!


Ek hou van die vrolikheid van die bont mat, maar die aardse kleur is ook pragtig




Huise vol Hekelwerk

Jinne maar ons bak behoorlik hier in Malelane! Dit was Sondag 46 grade en van toe af gaan dit gaan nie veel beter nie. Hopelik kry ons binnekort reën en 'n bietjie koeler weer.


Onthou julle die gehelde en gestyfde ornamente wat jare terug in die mode was? Mense het swane en dinge in hulle huise gehad wat so styf gemaak is met suikerwater as ek reg onthou. Kyk hierdie stoel, dit het my daaraan laat dink! Net baie mooier.


Hier is nog 'n idee vir 'n stoel. Ek hou nogal baie van die een, met die vrolike 'granny squares'.





Dit kom uit 'n blog, gaan kyk gerus!

Hopelik raak ek nie eendag so opgevang in hekel dat ek my meubels begin oortrek nie. Maar met die nuwe modes weet mens nooit!


Hierdie kroegstoeltjies is vir my baie mooi, sal nogal nie omgee om sulkes te maak nie







En dan natuurlik, my 'all time favourite' mat. Dis van Nona Pepe. Ek het dit al van alle kante af bekyk, en gedink as mens die blommetjies hekel en op 'n groot badhanddoek vaswerk kan dit nogal werk. Dis vir my ongelooflik mooi, en eendag gaan ek nog so een aanpak!


Ek sal dadelik laat weet en fotos neem wanneer inspirasie vir so groot projek my eendag my pak!