Sunday 27 November 2011

Luilekker naweke





Ek moet bieg: ek is mal oor lysies maak. Ek kan so deur die week vir myself 'n hele lys maak van als wat ek die naweek gaan doen. Van klein dingetjies soos om die yskas reg te pak, tot om 'n lysie van Kersgeskenke te begin maak. (ja 'n lysie om 'n lysie te maak) Maar sonder lysies gaan ek moeilik regkom. En van inkopie lysies sal ek liewer op 'n ander keer praat, want dis my groot verslawing. Meestal doen ek nogal dit was op die lysies is, of ten minste meeste daarvan. Hierdie naweek was een van my minder suksesvolle lysie naweke. O, glo my, ek het 'n lekker stewige lysie gehad, maar al wat ek wel gedoen het was om die twee kniekombersies uiteindelik klaar te maak. En hulle lyk so oulik, ek is nogal trots op hulle. Maar o wee, verder as dit het ek nie gevorder met die lysie nie. Ek het wel baie gelees, heeltemal te veel tv gekyk, 'n resep gemaak wat behoorlik sonde is vir die heupe. Maar meestal was ek lui, het ek ontspan, en het ek boonop elke oomblik daarvan geniet.


My ma het 'n rukkie terug gebel met 'n resep wat ek volgens haar absoluut MOET probeer. Ek is nie seker wat mens dit noem nie, maar dis defnitief die maak werd:

bestanddele:

3 groot bar one's
1/4 k margarien
1 eetl stroop
80 ml suiker
1 koppie klapper
2 koppies rice krispies

Smelt bar one's en margarien oor lae hitte. Klop tot glad. Voeg stroop en suiker by en roer tot suiker gesmelt het. Verwyder van hitte

Voeg klapper en rice krispies by en meng goed.

Skep die mengsel in 'n gesmeerde bak (die langwerpige 'pyrex' bakke werk goed). Druk vas met die agterkant van 'n lepel of met jou vingers (moenie lek tot jy klaar is nie!)

Sny in blokkies, laat afkoel en sit in yskas tot koud.



Eet op 'n naweek wanneer jou lysies lank is en jy te lui voel om dit te doen!




Geniet

No comments:

Post a Comment