Tuesday 26 March 2013

Dis weer Paastyd



 'Deur die bloed van Sy Seun is ons verlos en is ons oortrededinge vergewe 
kragtens die ryk genade van God' 

Ef 1:7


 



 Patroon vir kruis gratis hier te kry



Monday 25 March 2013

Outydse tjalies en groentetuine

Lemondesucrette is 'n dame in Lebanon wat die mooiste hekelwerk doen.  Ek volg haar blog en op die nuutste het sy die mooiste tjalie patroon.  Boonop is die patroon in diagram vorm, waaroor ek dol is!

Onthou julle hoe ons oumas altyd tjalies gehekel het? Ek het die mooiste Lollipop wol in my kas en dit is net reg vir so 'n sagte tjalie.



Ek sou graag wou vertel hoe ek snoesig sit en hekel het daaraan, maar die wrede werklikheid is dat dit maar redelik warm raak met die hekelwerk op my skoot!  Nietemin, ek is mal oor die patroon en hoe dit vorder.

Op 'n vorige wol inkopietog het ek hierdie Lotus hekelgaring raakgeloop.  Dit het 'n redelike "tou" tekstuur en is ideaal vir plekmatjies.  Ek het 55 ks gemaak, en gevolg met een ry kb, en een ry lb.  Hierdie twee patroonrye het ek 17 keer herhaal en geeindig met 'n ry kb.  Sommer vinnig en maklik en dit lyk baie mooi.







Die naweek het ek ook 'n groentetuin begin, iets wat ek al baie lank dreig om te doen.  Ek het klein begin, sommer in houers, en sal afhangend van die vordering defnitief uitbrei.



Die idee is om dit organies te doen, en genoeg groente te kweek vir eie gebruik. (hoe slim klink ek nou?). Dit was al die bedrywigheid in my naweek.  Ek hoop julle het 'n heerlike en geseënde week, en indien julle reis in die paastyd, doen dit asb versigtig en kom veilig terug.

Tot volgende keer!

E


Monday 11 March 2013

Koel naweek vol wol

Ons was hierdie naweek geseën met heerlike koel weer. Sommer so uit die bloute, en na 'n lang tyd van redelike erge hitte en humiditeit.  Dit was heerlik om met wol besig te wees, en dis hoe ek die grootste deel van my naweek verwyl het.

Die onderbaadjie uit die vorige blog het mooi hout knopies gekry

 

 Nog 'n sagte jassie klaar, hierdie keer spierwit


Ek het sowaar selfs gebrei!  Die nuwe wol wat mens kry vir serpe is onweerstaanbaar, en mens brei 'n hele serp in 'n aand!

 



 More pak ek my tasse vol babagoedjies en woensdag oggend vat ek die lang pad Kokstad toe om vir my dogter en haar man te gaan kuier.  Hoop almal het 'n heerlike week, tot volgende keer, groetnis!





Tuesday 5 March 2013

Ek het altyd gedink komberse is die lekkerste goed om te hekel.  En toe ontdek ek klein baba baadjies en truitjies!  Ai vreugde!  Sulke sagte wollerige skeppings, en dit gaan so vinnig!

Nog steeds uit die oulike Weekend Crochet for Babies, waarvan ek in 'n vorige blog geskryf het, is hierdie oulike onderbaadjie.



 Ek het Elle se Pure Gold Baby gebruik, en die kleure kom nogal oulik uit.  Dis bietjie meer seun as dogtertjie, maar ek sal maar my ouma instinkte volg.  As ek verkeerd is, sal die dogtertjie maar moet leer dat meisies ook oulik lyk in 'camo kleure'.


 


Daar's hy - al wat nou kort is knopies. Dis nou regtig minder as 'n naweek se werk.



Groete tot volgende keer!