Tuesday 29 May 2012

Molly se Jas

Molly is my 11 jarige Jack Russell.  Selfs al word Malelane nou nie eintlik snerpend koud nie, is Molly erg koulik.  Sy kruip saans so diep onder die komberse in dat sy in die oggende 'n rukkie vat om haar pad weer uit te vind.  Dis nogal snaaks wanneer ek haar roep en ek sien hoe die komberse roer en sy spook om uit te kom.

Ek het gistermiddag vinnig vir Molly nog 'n jassie gehekel vir die winter.  'n Lekker bont, vrolike een.  En weer besef hoekom ek so mal is oor hekel.  Dit was letterlik in minder as 2 ure reg en nommerpas om haar ronde lyfie.

Begin met 'n eenvoudige granny blokkie - die model hoef nie eers uit haar slaap te ontwaak vir die pas nie



Daar's hy!  tog te oulik




Wednesday 23 May 2012

(Doring) Rosie

'n Vriendin het 'n ruk gelede vir my 'n patroon gebring wat in 'n vroue tydskrif verskyn het.  Die kussing het die mooiste rose op, en ek het (natuurlik) gou 'n paar gemaak met oorskiet wol.  Kan myself maar net nie keer wanneer ek iets nuuts sien nie!


Dit gaan sommer vinnig en dit maak sulke mooi regop rose wat uitstaan


Die laaste rytjie maak 8 blaartjies (agter) so dis maklik om dit in 'n blokkie te omskep


En vinnig het jy 'n hele paar


Nou wonder ek, as ek aanhou blaartjies bysit, kan ek mos 'n lekker groot bont kussing maak?


Thursday 17 May 2012

'n Bielie van 'n Babakombers

Babakombers nommer 2 is in wording.  Ek het dalk so bietjie oorboord gegaan met die dikte van die wol, en was nogal bekommerd na die eerste paar rytjies.  Dis regtig dik en ek het gedink as dit te dik is vir 'n kombers kan dit altyd 'n baba mat word. 

Ek gebruik wit wol van Sempati en die grys is Lollipop. Die wit is bietjie moeiliker om mee te werk, want dis 'n growwe tekstuur en my hande word nogal moeg daarvan.  Die grys is ongelooflik lekker om mee te hekel, en dis behoorlik 'n briesie om elke derde ry daarmee te doen!

Hoe verder ek vorder, hoe mooier lyk dit vir my.  Dis wel dik maar dis super sag.



 Ten minste gaan baba lekker warm toegewikkel word!


Verlede keer het ek hierdie foto vergeet, dis die huisie waar ons gebly het in Paternoster.  Is die nie vreeslik mooi nie?


Kyk net hierdie mooi kleure! Dis visnet wol, en was vir my baie vreemd.  Ek het 'n bal daarvan as geskenk gekry maar het dit vir my ma gegee om liewer daarmee te brei.  Maar hierdie wol spook toe by my en wonder bo wonder is daar toe sowaar 'n winkel in Malelane wat dit aanhou en nogal in die mooiste kleure denkbaar. Ek koop toe so ewe vir my breipenne net vir ingeval. Na 'n ry of twee besef ek weereens dat brei heeltemal te stadig na my sin is en besluit as mens dit kan brei, kan jy dit verseker hekel ook! En voila! 'n Serp!  Lyk baie soos 'n bad sponsie of hoe?



Tot volgende keer, maak 'n verskil!

Friday 11 May 2012

Paternoster se rustigheid

Hierdie blog is so bietjie laat, maar na my vakansie was dit blog week, en dinge het net so dol gegaan.  Uiteindelik kan ek darem nou 'n paar fotos opsit van my salige wegbreek in Paternoster.  Dit bly maar een van die mooiste mooiste plekke.

By Laaiplek in Velddrift het ons hierdie restaurant ontdek.  Die varsste vis soos mens seker net so teen die see kan kry.  En 'n hele bord kos vir R30!


Die mooi en rustigheid van Paternoster.  Ek geniet hierdie mense vreeslik.  Afrikaans op sy beste, ek kan ure met hulle gesels.


Die water is bitterlik koud!




So lekker om my kinders weer te sien






Terug by die huis het Lea 'n teddie gekry van die wol wat oorgebly het.  Dit pas by haar kombersie :)




Friday 4 May 2012

Roomyskleure vir Lea


My eerste baba kombersie is klaar!  In Augustus word 'n mooi dogtertjie, Lea Storey, gebore. Ek hoop wanneer sy groter is en begin loop, sleep sy steeds hierdie bersie agter haar aan.






Wollerige Stories

Ek het voorheen genoem dat ek 'n vreeslike google aanhanger is.  Kyk, ek google ALLES.  Dis vir my te lekker om te weet waar goed vandaan kom, wat dit is, waar dit is, ag, enigiets oor alles.  Regte agie in daai opsig.  Wel, ek het gaan google en hierdie wol kom van Istanbul, Turkye af.  Is dit nie ongelooflik om te dink 'n bol wol word daar gemaak, al die pad hiernatoe gestuur, en verkoop vir R16.  Dan is daar nog steeds 'n hele paar mense wat iewers langs die pad wins maak uit hierdie einste bol wol.  Ongelooflik of hoe?



Dit is regtig baie mooi en sag, en ek het 5 bolle (of is dit balle) wol gebruik om 'n lekker lang serp te hekel.  18 Kettingsteke lank, en sommer gewone granny patroon.  Bly mos maar my gunsteling.




Pick n Pay klerewinkel verkoop die allermooiste Wellingtons.  Nee, ek weet nie hoe gereeld ek dit sal kan dra in Malelane nie, maar vir die rekord, ek het die paar middel onder gekoop! En toe verander ons weer en dis alweer bedags 34 grade.  Ai tog....



Hoop julle het 'n absoluut heerlike naweek!