Thursday 17 May 2012

'n Bielie van 'n Babakombers

Babakombers nommer 2 is in wording.  Ek het dalk so bietjie oorboord gegaan met die dikte van die wol, en was nogal bekommerd na die eerste paar rytjies.  Dis regtig dik en ek het gedink as dit te dik is vir 'n kombers kan dit altyd 'n baba mat word. 

Ek gebruik wit wol van Sempati en die grys is Lollipop. Die wit is bietjie moeiliker om mee te werk, want dis 'n growwe tekstuur en my hande word nogal moeg daarvan.  Die grys is ongelooflik lekker om mee te hekel, en dis behoorlik 'n briesie om elke derde ry daarmee te doen!

Hoe verder ek vorder, hoe mooier lyk dit vir my.  Dis wel dik maar dis super sag.



 Ten minste gaan baba lekker warm toegewikkel word!


Verlede keer het ek hierdie foto vergeet, dis die huisie waar ons gebly het in Paternoster.  Is die nie vreeslik mooi nie?


Kyk net hierdie mooi kleure! Dis visnet wol, en was vir my baie vreemd.  Ek het 'n bal daarvan as geskenk gekry maar het dit vir my ma gegee om liewer daarmee te brei.  Maar hierdie wol spook toe by my en wonder bo wonder is daar toe sowaar 'n winkel in Malelane wat dit aanhou en nogal in die mooiste kleure denkbaar. Ek koop toe so ewe vir my breipenne net vir ingeval. Na 'n ry of twee besef ek weereens dat brei heeltemal te stadig na my sin is en besluit as mens dit kan brei, kan jy dit verseker hekel ook! En voila! 'n Serp!  Lyk baie soos 'n bad sponsie of hoe?



Tot volgende keer, maak 'n verskil!

2 comments:

  1. Ons het in daai selfde huisie so twee jaar terug gebly. Daai Paternoster is darem 'n anderste plek. Kruip diep, diep binne mens se hart in.

    Ps. Jou blommetjies is te oulik!

    ReplyDelete
  2. Ai Brenda, daar sal ek nou kan aftree hoor! As daai mis so vinnig oor die see kom, sal ek 'n vuurtjie maak en heeldag lank hekel. Ek kan ook maar droom....

    ReplyDelete