Wednesday 29 August 2012

Mooiste Kaap en nog mooier babas

 
Na 'n heerlike naweek in Kaapstad by my dogter en skoonseun, is ek terug in 'n volsomer Malelane.  In die Kaap was dit die lekkerste winterweer.  Koud, winderig en met reën. Ai, wat sal ek darem gee om daar te bly!

My vlugte was vertraag oppad Kaap toe maar gelukkig het ek hekelwerk by my gehad wat my darem gekalmeer het.  Ek het heerlik op die lughawe sit en hekel terwyl almal sug, skarrel en horlosies dophou
 



Ons het lekker gekuier, na die sonsondergang op Seinheuwel gaan kyk en piekniek gehou in snerpende koue! 







 Bietjie pret met die mooi sonsondergang



Terug by die huis was 'n baie suur kat wat my duidelik laat verstaan het wat hy van my rondlopery dink!
 
 
Twee van die drie babas waaroor ek onlangs geblog het, is al hier! Lea Storey is op 12 Augustus gebore. Sy is Jaco en Liandri Storey se eerste baba en pragtig!


 

Op 23 Augustus (op my dogter se verjaardag!) is Isabella van Dyk gebore. Sy is die eerste dogtertjie van Niel en Genevieve van Dyk en het 'n boetie, Anthony.  Sy het 2.45kg geweeg en is piepklein maar so volmaak en mooi
 
 Skaars groter as my hand



 Rachell van The Little Room of Rachell begin op 1 September 'n CAL (Crochet-a-long).  Ons gaan al 200 blokkies uit die boek 200 Crochet Blocks for blankets, throws and afghans, deur Jan Eaton hekel.

Die tema (waarvoor deelnemers gestem het) is Cottage Garden.

Hierdie is die inspirasie vir die kleure

 

Ek het gisteraand deur al my wolvoorraad gaan kyk en besluit dat ek genoeg wol het om die kombers te maak sonder om nuwe wol te gaan koop. 

Hierdie is van die kleure wat ek gaan gebruik


 


 

Ek sien uit om die eerste blokkies te maak en sal julle weekliks op hoogte hou van die vordering!

Monday 20 August 2012

The Naked Sheep

Vandag het ek 'n stukkie hemel ontdek in Nelspruit. The Naked Sheep is 'n winkeltjie wat oa die mooiste wol verkoop. 

Met so 'n boom voor die deur, verwag mens net die mooiste wol en vriendelikste diens. Teleurgesteld was ek verseker nie.




The Naked Sheep hou 'n reuse verskeidenheid wol aan.  My gunsteling Vinnis in die allermooiste kleure.

Hier is my aankope



Bambi vir kussings vir my kamer


Nikkim vir kussings vir Lezani se kamer


En nog Nikkim vir 'n nuwe baba kombers!


Gaan kuier gerus vir die dames by The Naked Sheep.  Hulle is by Winkel 47, Sonpark Boulevard, Nelspruit.  Of kry hulle by www.thenakedsheepco.co.za

Thursday 16 August 2012

Hekelwerk raakgeloop

Kyk net die oulike raampie wat ek gister in Pep raaksien!  Dis 'n fotoraam vir 'n nuwe baba, hulle het net 2 bloues oorgehad.


Wat my natuurlik getrek het, is die piepklein gehekelde baba truitjie!  Is dit nie pragtig nie?


Teen R19.99, was ek nogal getempteer om dit te koop net vir daai truitjie!


Monday 13 August 2012

'n Week van (siek) verlof

Verlede week het my ouers, swaer en suster vir my kom kuier.  Ek het verlof geneem om saam te kuier, en toe word ek Maandag oggend wakker met 'n seer keel wat teen die middag 'n volskaalse griep is!  Dit was nogtans heerlik om met hulle te kuier en ek het dit so geniet. Dit was 'n week wat op Malelane standaard bitter koud was, en ek het natuurlik stewels aangetrek en elke oomblik daarvan waardeer.


Ons het na die Samora Machel Monument gaan kyk, iets wat ek al baie lank dreig om te doen.


Ons het ook 'n lekker dag in die wildtuin spandeer.




Tussendeur het ek darem tyd gekry vir hekel ook, en het nog 'n rokkie gehekel.  Deesdae blyk dit my gunsteling item te wees om te maak!



Hoop julle het 'n heerlike week!


Thursday 2 August 2012

Onder toesig

Gisteraand het ek begin hekel aan 'n rokkie met dun nr 5 garing en 'n 2mm hekelpen.  Sulke fyn, outydse hekelwerk.  


Gelukkig het ek my voltydse toesighouer, Twinkle, gehad om 'n oog te hou oor my vordering.