Monday 26 November 2012

Die Rimpeleffek


Daar's 'n roering in die water!  Of 'n rimpel effek op die wol front.  My vriendin en buurvrou Michelle, is besig met die allermooiste rimpel kombers.  Kyk net hoe mooi is daardie kleure.  Ek is elke keer verstom oor hoe vinnig sy leer hekel het, en hoe netjies sy werk.

 


Intussen is ek ook besig met een, so ons kan gereeld vergelyk.  Ek dink op die oomblik is Michelle loshande voor!




Tuesday 20 November 2012

Wolbom in Groenpunt

Ek het 'n heerlike, heerlike naweek gehad in Kaapstad.  My seun het 'n verrassings besoek van Londen gebring (ek het geweet, sy vriendin het nie).  Ek dink 'n groot en lekker verrassing vir haar, en dit was vir my heerlik om hom weer te sien.



Ek is mos maar smoorverlief op die moederstad.  Daar is 'n bekoring aan wat ek nie altyd in woorde kan omskryf nie. Alles voel vir my daar net anders en die koel wind wat meestal waai is natuurlik 'n heerlike pluspunt.





My dogter woon in Groenpunt teen 'n baie steil hoogte.  Onder in die straat is een van daardie onooglike elektriese bokse wat met beton mure toegemaak is.  Blykbaar het die dame wat oorkant dit bly besluit om vir haarself 'n beter uitsig te skep, en die pilare met wol getakel.  Kyk net na hierdie ongelooflike resultaat!



 

Nou kyk ek met nuwe (wollerige) oë na elke lamppaal en muur in Malelane. Hou hierdie spasie dop!

Friday 2 November 2012

Meer katjies as hekelwerk

Ek kan nie glo dat 'n maand so vinnig kon verbygaan nie.  My dae is redelik ingesluk deur werk en die versorging van 4 baba katjies.  Goed, ek oordryf.  Die mamma sorg ongelooflik mooi vir haar babatjies en ek sit my en verkyk en verwonder oor hoe vinnig hulle groei.  Hulle is nog steeds in my kantoor en ek voel behoorlik of ek elke mylpaal deel.  Ek raak opgewonde oor ogies wat oop is, die eerste treetjies, en vanoggend was dit die eerste keer dat 2 van hulle dit gewaag het om kos te begin eet.













Ek kom darem nog by hekelwerk ook uit, en werk tans aan die mooiste "ripple" kombers. Ek het 'n skakel gekry na 'n 'random stripe generator' en die kleure daar gaan invoer.  Ek wou nie net 'n herhaling van dieselfde kombinasies strepe gehad het nie. 
 
 
Ek gebruik Elle Gold vir die kombers, en geniet die sagte wol.
 
So 'n tydjie terug het ek hierdie mooi patroon raakgeloop en dit op Etsy gekoop.  Dis 'n patroon vir 'n kombersie, en ek weet nog nie wanneer ek dit gaan maak nie, maar ek moes darem eers die uit gesiggies probeer hekel. Dis nogal baie werk en vreeslik baie wolletjies wat weggewerk moet word, maar regtig 'n oulike patroon vir wanneer jy 'n baie spesiale iets wil maak.
 

Lea se mamma  het dringend 'n kopband vir haar gesoek, en ek het sommer so vinnig een aand hierdie een gehekel.  
 
 Ek kyk net hoe mooi lyk sy daarmee!


Tot volgende keer! Geniet die naweek