Thursday 13 October 2011

Geblok op 'n joga mat?

Ek is vandag pas terug na amper 'n week se verlof, om al die takies by die huis klaar te maak waarby ek nie altyd uitkom nie. Ek het darem al n hele paar afgehandel maar ek moet bieg, die lekkerste is natuurlik om elke uur of so gou 'n stukkie te hekel.

Ek was in graad twee toe 'n maatjie by die skool my geleer hekel het. Haar ma was oorlede en haar pa het skielik ons klas juffrou ge'date'. Ek en sy het besluit om vir hulle 'n kombers van klein blokkies te hekel as trougeskenk. Ek onthou hoe ons pouses onder 'n boom in die hoek van die skoolgronde gesit en hekel het. Ek dink nie die kombers het ooit klaargekom nie, maar ek kon hekel en dit was vir my 'n vreeslike lekkerte.

Toe ek swanger was met my eerste baba was daar nog nie sonars wat jou vooraf kon sê wat die geslag van die baba was nie. Tog het ek met die instinkte van 'n ma geweet dis 'n dogter, nes ek 3 jaar later geweet het dis 'n seun. Ek het pienk hekelgare gekoop en al haar kombersies 'n fraai randjie omgehekel, ten spyte van my skoonpa se protes oor die seun wat met pienk kombersies toegedraai sou moes word.

My ouma het vreeslik graag gehekel. Ek onthou 'n pienk hoed met bypassende serp wat sy gemaak het, en veral sulke bont poncho's wat sy vir ons gehekel het. Die pienk serp het ek gedra selfs toe die serpie veels te kort begin raak het. Ek wens vandag ek het dit gebêre, ek onthou nog goed hoe dit gelyk het, en dat die hoedjie so 'n tosseltjie op gehad het.

Selfs al kon ek altyd hekel, was dit maar basiese steke, en jare terug het hekelwerk gewoonlik bestaan uit fyn gare en dun naalde waaruit sierlike lappies opgetower is. Ek het bietjie gaan grawe in my boekrak, en kyk net die ou hekel boek wat ek nog het! Dit was uit die dae toe almal aan Leserskring behoort het. Kyk die patroon vir 'Heer en Dame kussings'!


Die internet is darem 'n ongelooflike medium. Vandat ek 'n hele paar hekel blogs volg, leer ek feitlik elke dag iets nuut. So het ek nooit daaraan gedink om my blokkies te 'blok' nie en het ek aanvaar vierkantige blokkies moet maar sulke ronde boeppens kante hê! Eendag het ek op Natasha King se blog gesien hoe sy dit doen, en toe besef ek hoekom my blokkies altyd half snaaks lyk! Ek wou eers gaan soek vir 'n sagte rubber tipe materiaal waarop ek dit kon doen, toe vang my oog my (ongebruikte) joga mat!


Ek vou dit dubbel en dit werk sommer baie lekker. Mens steek jou blokkies of ander hekelwerk mooi daarop met kopspelde vas, spuit dit dan nat en laat dit so droog word. By ons in die hitte word dit nogal vinnig droog, en ek vind dat ek dit 2 keer moet natmaak (nat, laat droog en weer nat) voordat dit regtig mooi vorm behou. Die grootste vangplek hier is gewoonlik om te keer dat een van my katte nie die matjie met hekelwerk as slaapplek gebruik nie!

Laat ek darem ook vertel dat my clivias vir die eerste keer blom hierdie jaar. Ek is baie trots op dit. Ek is 'n winter mens, ek gaan dood oor koue en reënweer, maar dis nogal lekker om te sien hoe daar nuwe lewe in my tuin kom hierdie tyd van die jaar.




Nou ja, lekker week vir almal, ons gesels weer!







No comments:

Post a Comment