Al is dit blog week, voel ek tog om hierdie blog in Afrikaans te skryf. My oudste herinnering aan hekel is die van my ouma Prinsloo. Ek het ouma baie selde gesien sonder haar hekelwerk. Wanneer mens gaan kuier het, het sy altyd in haar gunsteling stoel gesit en hekel. Ouma Prinsloo het vir ons bont poncho's gehekel en serpe met musse wat daarby pas. Later jare het sy vir my 'n gehekelde lappie gestuur, haar geskenk aan my toe ek op 'n bitter jong ouderdom trou en nog geen 'trousseau' gehad het nie. Ouma Prinsloo is in 1985 oorlede en ek wens soms ek kon met haar gesels om haar my hekelwerk te wys, en uit te vra oor waar haar liefde daarvoor begin het.
Toe ek so twee jaar terug weer die vreugde van hekel herontdek het, was die eerste blog wat ek gelees het, die van Natasja King. Natasja is 'n Suid Afrikaner wat in Londen woon, en ek kan gewoonlik nie wag vir haar nuutste blog nie. Ek het ook in Londen gebly in 1993 en 1994, en behalwe vir die inspirasie wat ek kry uit haar fotos, bring haar blog soms soveel verlange en nostalgie oor Engeland. Dankie Natasja, dat jy my geinspireer het om een van my grootste liefdes te herontdek. Hekel bring my oneindige vreugde!
Ons oumas!
ReplyDelete