Wednesday 25 January 2012

Om tog net orde te skep!

Ek en 'n vriendin gesels nou een middag oor hoe maklik ons tydskrifte koop as die voorblad iets sê soos: "101 manier om jou kaste te sorteer", of "50 maniere om orde te skep in jou huis", of "55 idees om pakplek te organiseer". Kyk, dan het jy my, soos die Engelse sê 'hook, line and sinker. Ek koop onmiddelik daai tydskrif en is oortuig dat hulle my hierdie keer idees gaan gee oor hoe om daai hoekies wat so ophoop met 'n towerstaf te laat verdwyn.

Vanoggend is ek bitter vroeg op, en toe ek weereens so kyk na die plastiek kratte met die wol, neem 'n vreeslike inspirasie van my besit en ek spring in. Hierdie hangkaste was deel van my ma se eerste kamerstel wat my pa amper 52 jaar terug vir haar gekoop het. My ma het dit vir my gegee toe ek 'n paar jaar terug huis gebou het, en dit staan in my spaarkamer. Wel, vanoggend het ek dit binne 'n japtrap omskep in 'n hekelkas! Ek het die hangrakkies gekoop by game, maar het bietjie die hoeveelheid wol onderskat, so ek sal nog een moet by koop. Gelukkig is daar genoeg plek. My hekelboeke en patrone is in 'n houer wat eintlik gemaak is om handsakke te stoor, en in die plastiek kratte hou ek die dunner hekelgare en al die blokkies wat ek al gehekel het net om 'n patroon uit te toets. Nou droom ek drome daarvan om die kas aan die binnekant te verf, dalk in sulke outydse dowwe strepe sodat dit lekker lig is.




Die kussing wat ek vir my seun gehekel het is ook klaar! Ek stuur vir hom net die sloop, want hy is in Kaapstad, en dis makliker vir hom om daar die kussing te kry om in te sit. Anders gaan dit 'n groot pakkie wees!

So lyk die voorkant:



en agter:



Ek het met die blokkies van die babakombers begin, en dis nogal vreemd om met sulke dun wol te werk. Dit haak baie maklik en mens moet versigtig wees om die steke mooi te hou sodat die wol nie 'split' nie. Ek is nog nie heeltemal seker oor hoe dit gaan lyk nie, want terwyl ek hekel verander ek maar gereeld van plan oor presies wat ek gaan doen! Intussen het ek darem al 10 van die liggeel gedoen, en sal nou besluit hoe ek verder gaan maak.




Geniet julle week, dis al amper naweek!



1 comment:

  1. Hi Elsa! Ek bewonder jou deursettingsvermoe met die blog! ek is self verslaaf aan hekel en blog! Watse wol gebruik jy vir die babakombers?

    ReplyDelete