Net soos Oumas op wie kleinkinders kan staatmaak vir warmte en liefde en altyd daar wees. Dis hoe ek vandag voel oor 'n "granny square". En aangesien ek so 'n vreeslike liefde daarvoor het, maar ook baie trots Afrikaans is, gaan ek van nou af net van oumablokkies praat.
Nou ja, soos ek verlede week vertel het, het ek met groot opgewondenheid weggespring met 'n nuwe babakombers van pienk blomme met wit agtergrond. Maar dit pla my, en dit sit nie lekker aan my nie. Ek kan nie my vinger daarop lê nie, maar dit voel net nie reg nie. Die pienk is net te helder teen die te wit agtergrond. En dis een van daai patrone wat ek gaan moet blok met spelde en dinge, en ek het nie lus daarvoor nie, want ek wil almal aanmekaar hekel en dan moet ek later nog 'n randjie bysit, en en en en....
Saterdag oggend word ek wakker met 'n helder prentjie in my kop! Ek gryp die pienk wol en raai wat vorm? Goeie getroue oumablokkies. En dit lê plat en vierkantig sonder enige blokwerk. Ek sit 'n grys rand om en hekel die een blok na die ander aanmekaar vas en dit voel so 'reg'!
Of ek nou wil of nie, oumablokkies werk maar net vir my, en ek gaan nooit weer daarteen baklei nie!
No comments:
Post a Comment